Tert se Kersfees Storie

Ek brand al van lankal af om hierdie storie te vertel, maar ek het uitgehou tot nou toe. Merkwaardig, al moet ek dit self sê. As ek ‘n storie hoor, dan moet hy vertel word, maar hierdie een moes ek mee wag.

Verlede jaar, besluit Tert en Lien dat, aangesien hulle kinders elkeen hulle eie koers gaan inslaan gedurende Kersfees, hulle nie stoksielalleen by die huis gaan sit nie. Tert wou weg na waar dit stil is. Geen blink liggies en goeters nie. Net die stilte.

‘n Paar dae voor Kersfees het ons gaan groet en geskenke geruil. Ons sou hulle eers weer na Nuwejaarsdag sien.

Met hulle terugkeer het ons gaan hallo sê en voorspoedige Nuwejaar en alles.

“Nou waar was julle toe?” wou ek nuuskierig weet.

“Noord-Kaap” sê Tert.

“Ek het nie geweet julle het familie daar nie?” vis ek verder uit.

“Nie gehad nie, maar nou het ons.”

“Nou maar hoe werk dit?” hou ek vol.

“Jy’t ook geen einde nie. Sal nou aanhou karring en karring tot jy jou storie het,” sê Tert.

“Maar jy weet mos. Ek dood oor ‘n storie.”

“Nou maar fyn. Sit terug en luister.”

Ek is kinderlik bly oor die vooruitsig van ‘n storie.

“Toe ek en Lien hier weg is, het ons regtig nie ‘n idéé gehad waarheen ons nou eintlik wil gaan nie. Ons het by Jasmyn gestop vir ontbyt toe Lien sê sy wil Laeveld toe. Maar ek het gesê nee, daar is óók te veel mense. Ek soek stilte.

“‘Nou maar dan moet jy woestyn toe,’ sê sy toe half op rukkerig. ‘Die kans is goed dat dit net ek en jy sal wees’, en sy skud haar hare. As sy so maak moet ek weet: sy is nou krapperig.’

“Ek het haar aangekyk. Jy is geniaal, weet jy, sê ek vir haar.

“‘Ek weet’ kom dit selfvoldaan. Haar stemming het verbeter.

“‘Nou waar sal ons dan heengaan?’ wou sy weet.

“Nee, ek weet nie. Ons ry maar soos wat die stuurwiel draai en die pad ons vat.

“Na ontbyt klim ons weer in die wa en ek draai Rustenburg se kant toe. Op Lichtenburg draai ons toe weg Vryburg se koers in. Daar het ons die aand geslaap. By die gastehuis op Vryburg, vertel iemand vir ons van die pad al op die Botswanagrens langs, die Molopo in tot by Van Zylsrus. Dis ‘n tweespoorpad maar onbeskryflik mooi sê die man.

“Die volgende oggend na ontbyt gryp ons die pad. Later is ons van die teer af op ‘n grondpad. Die grondpad word toe wel later ‘n tweespoorpaadjie, en die wêreld is vreeslik mooi. Die mooiste kameeldorings en af en toe ‘n koedoe of twee, drie, en selfs ‘n troppie gemsbokke. Deur plase en seker ‘n honderd hekke moes ek iewers verkeerd afgedraai het, want toe raak die paadjie amper weg.

“Ons plan was om op Van Zylsrus te gaan slaap soos wat die ou op Vryburg vir ons beduie het, maar skielik het dit na ‘n bitter skrale moontlikheid gelyk. Ons was in ons kanon in verdwaal. Die son was besig om te sak. Dit was Oukersdagaand, en ons was in die middel van nêrens, maar vreemd genoeg, dit was asof daar ‘n groot kalmte oor my gekom het. Ek het vir Lien gekyk.

“‘Dis lekker hier’, sê sy toe. ‘Ons slaan ons tentjie sommer net hier op en ons slaap net hier in die veld onder die sterre. Hier is nou so min mense, dis wraggies net ons twee.’ Sy giggel avontuurlik.

“Ons klim uit die wa uit en Lien kom staan in my arms. ‘Kyk hoe mooi is die sonsondergang’ sê sy. Lank het ek so gestaan met haar kop teen my bors totdat die son agter die horison weggesak het. Om ons het die nag begin wakker word. Ons het nog so gestaan, toe ons ‘n vreemde geluid hoor. So ‘n klingel-klingel geluid. Terwyl ons nog rondkyk kom daar ‘n donkiekarretjie om die draai.

“‘Ek sê vir die vrou ek moet loop kyk. Ek dink ek hoor iets,’ sê die oompie op die bankie toe die karretjie langs ons tot stilstand kom.

“Ek draai om en kyk na die oompie. Rateltaai en voos gebrand deur die son sit hy daar.

“‘Kom, meneer-hulle kan nie hier in die vlak slaap nie. Die vrou het al klaar julle kamer reggemaak.’ Dis duidelik dat die oom nie nee vir ‘n antwoord gaan vat nie.

“‘Sal Oom omgee as ek saam met Oom ry? Ek het nog nooit op ‘n donkiekarretjie gery nie,’ vra Lien toe opgewonde.

“‘Alte seker Mevrou. Wag ek help vir Mevrou,’ sê die oom en help vir Lien tot op die bankie. Stadig kruie ons daar met die slingerpaadjie aan tot by die huisie. Lien waai vir my van die bankie af. Sy is so opgewonde soos ‘n skoolkind.

“Die huisie is skoon en netjies op ‘n eenvoudige manier. Die tante kom op die stoep uit toe ons stilhou.

“‘Maar welkom hier by ons, Hennerik vat die meneer-hulle se goed en sit dit in die spaarkamer kom nader die ketel kook al,’ sê die tante alles in een asem.

“Toe ons in die kombuis instap, ruik ek die geurig gekookte kos, en die brandende paraffienlamp op die wit geskropte tafel.

“‘Kom ek wys vir Mevrou waar die badkamer is Mevrou wil seker eers bietjie hande en gesig was voor ek koffie skink.’ Weer alles in een asem.

“Ek help die oompie om ons bagasie kamer toe te dra. ‘Maar hoe is dit dat die tante die kamer so vinnig reggemaak het,’ wil ek by die oompie weet.

‘Nee, Meneer sien, die vrou maak elke jaar so ‘n week voor Kersfees al die kamer reg. Maar ek sal later vir Meneer die storie vertel. Kom was eers hande en dan gaan drink ons koffie.’

“Later, toe ons aan tafel sit, merk ek dat die tante nie net vir twee gekook het nie. Dit lyk asof sy ons verwag het. ‘Hoe is dit dan dat dit vir my lyk asof tante ons hier verwag het’, vra ek nuuskierig.

“‘Maar natuurlik het ek mense verwag die Liewe Heer stuur elke jaar vir ons mense vir Kersfees Hy het nog nie een jaar oorgeslaan vandat die kinders hier weg is stad toe nie ek het Hom so gevra en Hy het so gedoen.’ Punte en kommas bestaan nie vir die tante nie. “‘Hoe dan so, tante?’ wil ek weet.

“‘Nee meneer sien ons is eintlik afstammelinge van die Griekwas wat vroeër jare hier deurgetrek het en onse kinders het nooit die liefde vir die wêreld gehad soos ons dit het nie en jare terug het hulle besluit hulle is moeg vir die wêreld met sy hitte en droogtes en goed en op ‘n dag het hulle net besluit om weg te trek en tot nou toe het ons nog nie weer ‘n woord van hulle gehoor nie dis vanjaar al vyftien jaar dat hulle weg is.’

“Die tante skep asem. Die oom vat oor. ‘Net voor die eerste Kersfees nadat die kinders hier weg is, sê ek vir die vrou, ek sê Ma, ek kan nie hierdie jaar Kersfees hou nie. Die kinders is weg en dis net ons twee en my hart is seer en sal net seerder word hier oor die Groot Dae. Wat gaan ons maak?’

“‘Sy sê toe, Hennerik, moet nou nie daaroor wakker lê nie ek het reeds vir onse Hemelse Vader gevra om vir ons mense te stuur vir Kersfees more gaan ek die spaarkamer begin regmaak en jy moet kom hjelp.’

“‘Dit was ‘n week voor Kersfees. Die volgende dag het die stof gestaan soos die vrou alles begin regmaak het, en ek het angstig gehoop dat die Vader vir haar gehoor het en dat sy nie teleurgestel sal wees nie.’

“Die tante val in. ‘Daardie eerste jaar het die mense gekom ook op Oukersdag net soos meneer-hulle ook geverdwaal ek het kant en klaar gekook gehad toe hulle hier aanland daar was ‘n kleintjie ook by ek was so bly Hennerik het gesê die Here het ons nie alleen gelos nie.’

“Die eenvoud, geloof, vertroue en die opregtheid van die mense het my aangegryp,” vertel Tert.

“Nadat ons geëet het, het die oompie die dankgebed gedoen en toe strammerig opgestaan. ‘Sit julle net so. Ek gaan net die Bybel haal.’

“Toe die oom terug kom, gee hy vir my die Bybel aan.

“‘Sal Meneer asseblief vir ons lees. Nie ek of die vrou het enige gelerendheid nie en al wanneer ons die Bybel uithaal is wanneer hier mense kom wat dan vir ons lees. Verder sê ek maar die stukkiekies op wat so met die jare saam in my kop vasgesteek het, of wat ek nog in die Sondagskool uit my kop moes geleer het. My pa-hulle het ons nie skool toe kon stuur nie, maar ons moes elke Sondag kerk toe gaan en daarna was dit Sondagskool.’

“Ek maak die Bybel oop. ‘Wat moet ek vir oom-hulle lees?’

“‘Lees vir ons asseblief die geboorteverhaal. Soos wat dit in Lukas staan.’

“‘Ja, asseblief,’ kom dit van die tante, ‘dis baie mooier daar as in die ander boeke van die Bybel.’

“Terwyl ek rondblaai, kry ek die reuk van mottegif. Hier en daar is ‘n foto’tjie tussen die blaaie gebêre. Ek begin lees.

“Die kombuis het amper ‘n heilige plek geword. ‘n Katedraal. Ek lees van Maria en die Kind. Van die stal en die krip. Van die herders en die wyse manne. Die stil toe ek die Boek toemaak.

“Die oom sit met sy hande in eerbied gevou. Deur die kombuisvenster het die volmaan groot en wit oor die kameeldorings gelê. Saggies begin die tante Stille Nag te sing. Haar oumensstem is krakerig, maar vir ons het dit die klank van ‘n nagtegaal gehad. Dis asof van iewers af die engele saamgesing het. Die oom het met sy dreunstem ingeval en Lien kort na hom.

Ek het probeer, maar die knop in my keel was te groot. Ek kon net fluister. Ek het daar lief geword vir hierdie twee eenvoudige, maar opregte mense.

“‘Ek wens daar was iets wat ons vir die twee oues kon doen,’ sê ek later vir Lien toe ons in die bed lê.

“‘Hulle het alles wat hulle nodig het,’ sê Lien. ‘Wêreldsgoed beteken vir hulle niks nie. As ons iets wil doen, moet ons bid en vra dat die Here hulle kinders sal laat terugkom.’

“Daar langs die bed het ons toe gekniel en vir die Here gevra om tog ook aan die oumense se hartseer te dink en hulle kinders te laat terugkom. Met ‘n tevrede gemoed het ons die kers doodgeblaas en aan die slaap geraak.

“Die oumense was baie bly toe ons vra of ons ‘n paar dae langer kan bly. Ons kon eenvoudig nie genoeg van hulle gasvryheid kry nie. Ons het saam met hulle lang ente met die donkiekarretjie in die veld gery, en dit was veral vir Lien baie lekker. Dit het my laat besef hoe leeg ons lewens regtig geword het. As ons kuiermense kry, dan vat ons hulle na een of ander Mall of ‘n ding toe, maar hier is ‘n rit op ‘n donkiekar in die veld ‘n siele lafenis.

“Oujaarsdag middag, toe ons terugkom van die veld af, sien ons die vreemde kar onder die kameeldoring staan.

“‘Haai kyk pa ons het nog mense gekry is dit nou nie vir jou wonderlik nie?’

“Dis toe die figuur om die hoek van die huis kom dat die oom die teuels styf pluk. Die donkies het nog nie eers behoorlik stilgestaan nie, of die oom spring af en storm vooruit.

“‘Hennerik! Hennerikkie my seun!’ Die oom huil.

“‘Pa!’ roep die man van die hoek af. ‘Pa!’ Toe is hulle in mekaar se arms. Die pa en sy seun.

“Die tante kom ook by. ‘Hennerik . . . Hennerikkiekie, is dit regtig jy, my kind?’ Die tante se vreugde ken geen perke nie. Hulle omhels mekaar.

“‘Wag Ma, Pa, hier is nog mense.’ Toe sien ons die ander mense wat om die hoek kom.

“‘Freek!’ roep die oom. ‘Freek, ag my seun. Ek is so bly. Die Here is vir ons goed. En die ander? Wie is hulle?’

“‘Pa, Ma, ontmoet ons vrouens en julle kleinkinders.’

“Toe het daar voor ons oë ‘n ding gebeur wat in my geheue ingegraveer is en wat ek sal onthou tot die dag van my dood,” sê Tert.

“Die oom sak daar op die warm kalaharisand op sy knieë neer en bid ‘n dank- en lofgebed waarvan ek die gelyke nog nie gehoor het nie. Soos ‘n Abraham van ouds. Op sy knieë met sy hande na bo uitgestrek.

“Ek en Lien het na mekaar gekyk. Trane het in Lien se oë geblink. Ons het op heilige grond gestaan. Ons gebed is verhoor. Die Here het vir ons gegee presiés wat ons van Hom gevra het.”

(Skrywer onbekend)

ZANRI

15300087614_4237da30e8_qIn hierdie nag O HEER !
Die pyn dit maak so seer !
My verlange skreeu en maai !
So langs die verlede se draai !
Die pyn die pyn O! Heer!
Dit maak so seer! So Seer!

Die verlede en die hede
Draai in my kop en daars nie vrede
Die huppel en die lag
Vol vreugde vir die dag
Rokkies wat om en om draai
Blonde koppie wat rond swaai

Vir haar was liefde nooit te veel
Ongevraagd orals uitgedeel
Here U het haar bewaar
Teen wêreld se onheile en gevaar
In al my siele versugting
Help my om te kry berusting.

WORSHONDJIES

IM000509.JPG

Twee worshondjies
Uit kombersies gesiggies
Oortjies agteroor
Asempies ongestoor
Salig onbewus
Van al die getwis
Tussen mense en nasies
Die wêreld skreeu: Demokrasie!

Wat alles ook beteken
Hulle word nie ingereken
As alles om ons in duie stort
Wat gaan van hulle word
Hoe moet ek hulle bewaar
Teen die aankomende gevaar
Hulle is my hondekinders
Agterbly nooit as te nimmer

DANKIE

Dankie Heer vir die geseënde lewe
Ook vir al die verhoorde gebede
Vier kinders het U ons gegee
Saam met U Heer het ons hul gesmee
Van U Heer het ons hul geleer
Laat hul nooit U Hand glip O Heer
Gaan dan verder met hul op die pad
Uit genade skenk aan hul Jerusalem die STAD

Dankie Heer vir ons nageslag
Klein kinders wat om ons speel en lag
Onweerswolke pak om hul saam
Sal hul verstaan
Ons het die troos Heer
Dat hul ook van U leer
Gaan dan verder met hul op die pad
Uit genade skenk aan hul Jerusalem die Stad

Dankie Heer vir nog ’n mylpaal
Uittree vertel die verhaal
Gedagtes wat skommel
Baie is maar rommel
Die mossie het nog sy nes
Die Heer sorg vir die res
Gaan dan verder op die pad
Uit GENADE skenk U aan ons Jerusalem die Stad

Te vroeg is sy gepluk
Uit ons lewens weggeruk
Om ons het sy gespeel en gelag
Vreugde om haar elke dag
Ag Heer sy het so mooi geblom
Vreugde gestrooi waar sy kom
Sy het die pad geken
Wat haar sou bring na die Ewige Stad Jerusalem

Vir jou het ek haar net geleen

© Wikus Hattingh 07/06/2015 (Gediggie & Waterverf)

Vir jou het ek haar net geleen © Wikus Hattingh 07/06/2015 (Gediggie & Waterverf)

Vir jou het ek haar net geleen

Ek sien jou orals waar ek gaan
Dis jy wat by die tafel staan
Met handjies uitgerek na meer
Gesiggie vol van vreugde weer

Ek sien jou orals waar ek gaan
Dis jy wat hier by my kom staan
Jou handjies uitgerek na my
“Mamma, kan ek nog lekkers kry?”

Ek sien jou orals waar ek gaan
Weg is nou my hartseer traan
Jou lyfie druk weer teen my vas
Dis asof werklikheid nooit was.

 

Maar jy het na die Heer gegaan
Dis Hy wat hier by my kom staan
Hy troos en sê ek moenie huil
Belowe om by Hom te skuil

Ag Here kan sy net een keer
By my kom sit en glimlag weer
My hartseer en my rou verdriet
Sal heel verdwyn so in die niet

Ek sien jou orals waar Ek gaan
Dis Ek wat hier by jou kom staan
Vir jou het ek haar net geleen
Ek is so bly, sy was ń seën.

Waar sal mamma jou kry?

Simóne
02 Desember 1998 – 14 September 2000

Nes sy was... bl 9

Waar sal mamma jou kry?

As my uurglas uitloop
waar sal mamma jou kry?

Sal dit wees in die skemeraand
of daar waar die son nooit ondergaan

Sal dit wees tussen die duisende blink sterretjies
Waar jy grootoog vir my wink

Sit jy wagtend in die koelte
van die doringboom geplant op jou graf

Sal mamma jou klokhelder laggie hoor
as jy roep na my in die wind

Sal mamma jou speel speel vind in ‘n moddderpoel
Vuil van kroontjie tot toontjie

Of al dansende met kaalvoetjies
op die ritme van Hemelse musiek

Sal jy vir mamma by die Hemelpoort
met een van jou nat soentjies inwag?

Sê vir mamma waar sal ek jou kry…

 

Psalm 23

Psalm 23 (Bron:- Psalm 23 en Bybel)
Dis ’n leeftyd se ding en steeds verder
Die Here is my Herder
Dis ’n hele lewens gelykenis
Van aanhoudende beleidenis

’n Skaap stap maklik agter sy versorger aan
Al sou die herder verborger taan
Hulle glo, hulle vertrou en kom as hy net wink
Stap agter hom aan sonder om aan iets te dink

Niks sal hulle ooit ontbreek nie
Hy laat hul nooit in die steek nie
Kom niks kort nie, al is daar nie water of gras nie
Hy sal sorg, selfs as daar voorheen niks was nie.

Na groen weivelde lei Hy hulle heen
Dan miskien net tydelik geleen
Na waters waar rus is, miskien nie vir my nie
Maar die fontein van lewende water gaan nie verby nie

(more…)

My Poppie

Ouma en Zanri

Ouma en Zanri

Terugflitse en ek wil ween
Jy was net aan ons geleen
Ons kan jou nooit vergeet
Jy was alles wat LIEFDE heet

Jy is ons ver vooruit
Jou liefde geleef voluit
As ons maar net van jou kon leer
Sal ons ook beter verstaan van ons HEER

Jou heengaan is voortdurende verlies
God het jou bo alles uitverkies
Om vir ons te sê
Waar die liefde lê

Geseënde liefling
OUMA

Outeur: Riekie Brink

Blindes

Dis altyd donker en ek moet
My pad maar aanhou tas en voel
Waar alles vaag en rooi soos bloed
lyk en ek in die groot gewoel
Moet stilhou en gaan staan;
Ek wonder soms hoe dit sal lyk
As God opeens die lig aanslaan
En ons die werklikheid bekyk

Wiele, spore, geluide, tonnemate, kole
‘n groot gejaag na kleinkoppie krone
Ons almal blind van spoed en haas
Vergeet ons die Skepper, alles hier geplaas
Nog ‘n vergadering – nog ‘n party
‘n Propvol program, ons moet tog die tyd omkry
As God opeens die lig aanslaan en basuine blaas
Het ons maar geweet, – waarheen het ons ons gehaas?

Outeur: Andries Willem Brink

Die See

Die groot blou water kyk en tuur
vir ‘n week vir ‘n dag of selfs vir ‘n uur
dit rol em maal en skuimvlokkie herte
verskyn  hier en daar en oral in die verte
die geruis die gesuis die gekras en gebruis
voor jy hier en daar en selfs in die hoogwater huis

Die groot blou water kyk en dink
aan dae lank vervloë jonk sterk en flink
my bruid en ek draf al langs die brekende water
skertsend laggend en kom tot ons self eers ure later
dit was die wonder  dae sorgloosedae weg gegly
af hoekom gaan die dae maande jare so gou verby

(more…)